KULTUUR
Seniorkoor

Soos die filosoof Friedrich Nietzsche aangehaal het:
♪”Without music life would be a mistake”♪.
Net só voel Du Preez van Wyk oor die Seniorkoor. Die koor bestaan uit ongeveer 45 lede. Ons neem deel aan die Kungwini Eisteddfod (waar ons onlangs met ‘n A++ weggestap het), asook verskeie koorfeeste wat aangebied word. Die Seniorkoor tree by ouetehuise in ons omgewing op as uitreik na ons eie gemeenskap.
Kleutertalent


Ongeveer 20 plaaslike en omliggende kleuterskole en speelgroepies neem deel aan Kleutertalent. 300 kleuters kry die geleentheid om ‘n gediggie voor te dra. Kleutertalent staan onder beskerming van die Kungwini Eisteddfod. Elke deelnemertjie ontvang ‘n deelnemersertifikaat. Die geleentheid vind elke jaar in Junie plaas by Laerskool Du Preez van Wyk. So ontwikkel ons die kleuters se selfvertroue om voor mense op te tree!
Eisteddfod

Die Kungwini Eisteddfod is ’n groot hoogtepunt op die Dupie-kalender. Hier kry die leerlinge geleentheid om van klein (graad 1) tot groot (graad 7) in te skryf en aan verskeie items deel te neem. Die items sluit in kuns, lees, redenaars, drama, dialoë, mimiek, dans ens. Ons eie skool se kore neem deel. Laerskool Du Preez van Wyk skryf ook jaarliks spreekkore (per graad) in wat telkens met die louere wegstap.
Juniorkoor
Die Juniorkoor is een van die boublokke van ons skool se kore. Ons is bevoorreg om elke jaar meer as ‘n honderd leerlinge te hê wat die oudisies bywoon, waarvan ongeveer 80 leerlinge geakkomodeer kan word. Ons neem jaarliks aan die Kungwini Eisteddfod deel en spog die afgelope klompie jare met ‘n A++.
Ons het al deelgeneem aan die Sing-in-Harmonie kompetisie. Die kinders geniet die blootstelling besonder baie. Die Juniorkoor tree op by ouetehuise in ons gemeenskap. Met die dag leer ons kinders deernis, liefde en omgee vir mense van alle ouderdomme.
Dupie-Koorfees
2019 het Dupieland sy eerste Dupie-Koorfees gehou waartydens Dawie de Jager, Francois Viljoen en Craig Jackson opgetree het, asook al ons eie kore. Hierde kunstenaars is nie net bekend vir hul pragtige stemme en beroemdheid nie, maar is ook oud-leerlinge van Laerskool Du Preez van Wyk. Tot ‘n onderwyserkoor is op die been gebring vir die Koorfees. Dit word elke 4 jaar aangebied en beloof om ‘n wonderlike musiekskouspel te wees.
Revue

Elke 4de jaar neem ons leerders deel aan ons skool se eie revue waar daar baie lekker “ge-dress” en gedans word. Graad 1 tot 7 neem deel en elke graad kry geleentheid om 3 items te lewer. Dit gee ook vir daardie leerling wat nooit aan kultuur deelneem nie ’n kans om te sien waaroor dit gaan. Dit sorg vir baie pret op die verhoog, sowel as van die verhoog af. Iets wat die leerlinge baie jare later steeds sal onthou.
Onnie Konsert

Nie net kan die leerders van Du Preez van Wyk konsert hou nie, maar die onderwysers ook. Dit is vet pret en die leerlinge geniet dit om hul onderwyser/esse op die verhoog te sien. Dit word ‘’n heerlike spanbou geleentheid met een tema “PRET”.
Redenaars & Orators
Graad 1 tot 7 neem jaarliks deel aan die skool se interne redenaars en orators. Die drie bestes in elke graad kwalifiseer om aan die Eisteddfod deel te neem.
Onderwerpe word deur die taalonderwysers gegee en die ATKV-onderwerpe word gebruik.